Man vas wat meisie met pornografie teister
2010-11-29 22:02
Johannesburg – ‘n Twee-en-veertigjarige man het Maandag in die Balfour landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met kinderpornografie, het polisie in Mpumalanga gesê.
Die man, Bogani Khoza, is Vrydagmiddag by die Balfour-taxistaanplek in hegtenis geneem, het woordvoerder sers. Sam Tshabalala gesê.
‘n Dertienjarige maisie wat in dieselfde taxi as Khoza van Heidelberg na Balfour gery het, het hom by die polisie gaan aankla.
“Toe hy in die taxi klim het hy (Khoza) na die meisie gegaan en vir haar gesê hoe mooi sy is en hy het haar gevra om met hom te trou,” het Tshabalala gesê.
Die 13-jarige het nee gesê en Khoza gevra om op te hou om met haar te praat.
“Hy het gevolglik ‘n pornografiese DVD uitgehaal en die prentjies op die omslag vir haar gewys. Hy het aan haar gesê hy wil hê sy moet dit wat op die DVD is vir hom doen.
“Sy het hom weer gevra om op te hou en ander passasiers het ingetree, maar hy het nie opgehou totdat hulle by Balfour gekom het nie,” het hy gesê.
Toe die taxi in Balfour aankom het die meisie reguit na die polisie gegaan en hulle van die voorval gaan vertel.
Die polisie het haar terug na die taxi-staanplek vergesel, waar sy Khoza uitgewys het. Hy is daar in hegtenis geneem.
Hy is Maandag R1 000 borgtog toegestaan, maar het dit nie betaal nie, het Tshabalala gesê.
Hy was steeds in aanhouding en sal na verwagting op 14 Desember in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA