Man vas wat glo probeer verkrag
2011-12-26 15:15
Jeffreysbaai – 'n Man is in Jeffreysbaai in hegtenis geneem ná hy na bewering probeer het om 'n verstandelik gestremde vrou te verkrag, het die polisie in die Oos-Kaap Maandag gesê.
Die man, 34, het die 60-jarige vrou na bewering Saterdagaand genader toe sy in Tulipstraat geloop het. Hy het glo aangebied om saam met haar te stap en om vir haar sigarette te koop, het lt.kol. Priscilla Naidu gesê.
"Op pad na die vrou se huis toe het hy haar gegryp en haar in die bosse in gesleep. Die vrou het gegil, en haar gille het iemand se aandag getrek wat die polisie gebel het," het Naidu gesê.
Die polisie het op die toneel aangekom toe die man glo op die punt was om die vrou seksueel aan te rand.
'n Saak van poging tot verkragting is aanhangig gemaak en die man sal na verwagting Woensdag in die Humansdorp-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA