Man vas vir moord op sy meisie
2012-01-10 17:04
Johannesburg – ‘n Agt-en-twintig-jarige man van Soweto is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie voor hul seun doodgesteek het in Pretoria-Noord, het die polisie gesê.
“Gister [Maandag] in die aand het die man sy meisie gaan sien, na bewering om sy vyfjarige seun te besoek. Toe hy daar aangekom het, het die meisie na bewering geweier om hom sy seun te laat sien. Hy het kwaad geword,” het ao. Kay Makhubela gesê.
Volgens hom het die man toe ‘n mes uitgehaal en die vrou ses maal voor die kind gesteek.
Makhubela het gesê die vrou (23) is op die toneel dood en die man het weggehardloop.
Die polisie het wenke opgevolg en die man Dinsdag by ‘n sinkhuis in Protea gevind.
Hy word by die Protea Glen-polisiekantoor aangehou en sal na verwagting binnekort in die Protea-landdroshof verskyn.
Die seun is geneem om by sy ouma te bly.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA