Man vas vir moord op gholfklub-bestuurder
2010-11-26 13:31
Johannesburg – ‘n 39-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bestuurder van die Walmer-gholfklub in Port Elizabeth, het polisie in die Oos-Kaap Vrydag gesê.
Kort ná die moord het ‘n taxibestuurder ‘n saak van ontvoering en gewapende roof by die Kabega Park-polisiestasie oopgemaak, het woordvoerder kapt. Sandra Janse van Rensburg, gesê.
Hy het aan die polisie gesê dat hy deur twee mans gekaap is wat hom daarna in sy taxi ontvoer en sy selfoon gesteel het.
Die Walmer-polisie, wat die moordsaak ondersoek het, het besef dat die man ‘n vals klag ingedien het en dat hy met die moord op die bestuurder van die klub, Gerry Hoekstra, verbind was, het sy gesê.
“Polisie het die taxibestuurder Donderdag gekontak en hom gevra om na die polisiestasie te gaan, aangesien hulle vrae rondom sy kapingsvoorval het.
“Toe hy by die polisiestasie opdaag is hy in hegtenis geneem.”
Hoekstra, 61, was Maandag op pad bank toe, toe hy deur sy motorvenster geskiet is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA