Man vas vir dwelms, onwettige diamante
2011-12-23 17:04
Kaapstad – 'n Man sal Vrydag in die Kaapstadse landdroshof verskyn nadat dwelms, haaivinne en onwettige diamante in sy besit gevind is, het die polisie gesê.
Die 36-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem toe die polisie by 'n voertuig-deursoekpunt op die hoek van Waal- en Rhodesstraat in Kaapstad 'n BMW afgetrek het, het kapt. FC Van Wyk gesê.
"Die polisie het 'n onbekende aantal dwelmmiddels, haaivinne, onwettige diamante en 'n toestel waarmee edelstene getoets word in die voertuig gevind."
Die voertuig is na 'n polisiekantoor geneem waar dit verder deursoek is en 'n groot bedrag kontant is in die motor gevind, het Van Wyk gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA