Man vas vir Petros-inbraak
2011-06-26 17:58
Johannesburg – ‘n Man van Mamelodi is in hegtenis geneem in verband met die inbraak by die Bryanston-huis van die Gautengse polisiekommissaris, lt. genl. Mzwandile Petros, het die polisie Sondag gesê.
“Die vinnige inhegtenisneming in verband met die saak waarby lt. genl. Petros betrek is, onderstreep ons toewyding om met uiterste effektiwiteit na sulke misdade om te sien,” het genl. Bheki Cele, nasionale polisiekommissaris, Sondag gesê.
Die 27-jarige man is na bewering in hegtenis geneem terwyl hy Saterdagnag by ‘n ander huis in Bryanston ingebreek het, het brig. Neville Malila gesê.
Hy was saam met twee ander mans toe die polisie by die toneel aangekom het, het hy gesê.
Hulle het hul wegkom-motor buite die huis gelaat. Goedere wat in beide inbrake gesteel is, is in die motor gevind.
Die man saal Maandag in die hof verskyn.
Inbrekers het Vrydag by Petros se huis ingebreek en met ‘n plasma-televisiestel en ander toebehore weggekom. Hy was nie ten tyde van die inbraak by die huis nie, maar sy vrou was. Die inbrekers het gevlug toe sy die alarmstelsel geaktiveer het.
Volgens die polisie word die inbraak nié verbind met ‘n inbraak by die huis van die voormalige nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi nie.
Daar is Saterdagnag by Selebi se huis in Waterkloof, Pretoria, ingebreek.
Volgens lt. kol. Tshisikawe Ndou het die inbrekers die veiligheidshek van sy spoor gelig om toegang tot Selebi se huis te kry.
Volgens hom het die diewe ‘n plasma-televisiestel, ‘n skootrekenaar en buitelandse munte gesteel.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA