Man vas vir Bloemfontein-moord
2010-08-23 22:00
Bloemfontein – Polisie het Maandag ‘n man in die Chris Hani informele nedersetting naby Bloemfontein in verband met die moord op die direkteur van ‘n plaaslike konstruksiemaatskappy in hegtenis geneem.
Volgens polisiewoordvoerder lt.kol. Thandi Mbambo is die 49-jarige man ná intensiewe ondersoeke sedert verlede Vrydag in hegtenis geneem.
“’n 9mm-pistool is gekonfiskeer en na ‘n forensiese laboratorium geneem vir toetse,” het sy gesê.
Don Butler, 55, is op die perseel van RADM-konstruksie naby Bloemfontein doodgeskiet toe hy Vrydag omstreeks 06:50 die deure oopgesluit het.
‘n Sekuriteitswag het geweerskote gehoor en opgemerk dat Butler geskiet is.
Butler het vier skietwonde opgedoen en het kort ná sy aankoms by ‘n plaaslike hospitaal gesterf.
Volgens Mbambo sal die man Woensdag op ‘n aanklag van moord in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA