Man vas oor wapens, ammunisie
2012-01-11 19:47
Johannesburg – ‘n Sewe-en-dertig-jarige man is Woensdag in Leeukuil, Polokwane, in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, het die polisie in Limpopo gesê.
Die man is omstreeks 04:00 vasgetrek, met drie jaggewere, twee rewolwers en 331 lewendige rondes ammunisie in sy besit, het lt. kol. Mohale Ramatseba gesê.
Die vuurwapens en ammunisie is in ‘n kluis, twee bokse en ‘n klerekas gevind. Hulle het aan sy pa behoort, wie onlangs gesterf het.
Volgens Ramatseba moes die man aansoek gedoen het vir toestemming om die wapens te stoor en te hou, in terme van die wet op die beheer van vuurwapens.
Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit gebruik is om enige misdade te pleeg.
Die man sal binnekort in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA