Man vas oor R1 miljoen se diamante
2009-10-25 23:40
Johannesburg - 'n Man is in hegtenis geneem nadat diamante ter waarde van R1 miljoen en 'n gram kokaïen in sy besit gevind is.
Insp. Joey Jeevan, 'n polisiewoordvoerder, het gesê die 29-jarige man is tydens 'n klopjag in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.
"Gepoleerde en ongepoleerde diamante van meer as R1 miljoen is in die man se besit gevind."
Die man het glo 'n koper gesoek toe hy Saterdag in hegtenis geneem is.
Hy sal binnekort op aanklag van die onwettige besit van ongepoleerde diamante en kokaïen in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.
– Sapa