Man vas nadat hy losbrand op 'aanvallers'
2011-05-16 07:40
Welkom – ’n Sakeman van die stad is Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat hy op drie mans wat hom na bewering in die nywerheidsgebied aangerand het, losgebrand het en in die proses ’n verbygaande motor beskadig het.
Sers. Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, sê die 58-jarige man sal binnekort in die hof op ’n klag van poging tot moord verskyn. Die polisie het op sy vuurwapen beslag gelê. Die sakeman het die vorige dag twee mans ontmoet wat gevra het hy moet goed vir hulle vervoer. Hy werk vir homself en maak ekstra geld deur goed vir mense in sy paneelwaentjie te vervoer.
Hy beweer dat toe hy later dieselfde dag gegaan het om die mense se goed af te lewer, het hulle beweer hy het van hul pype gesteel en gedreig om hom aan te rand. Vrydagoggend was hy besig om goed in Tiende Straat in die nywerheidsgebied af te lewer toe die twee hom sien. Hulle het hom glo genader en probeer om sy voertuig te beskadig. Hy het uitgeklim en hulle het hom na bewering met die vuiste begin aanrand en hom met klippe gegooi.
Hy het sy vuurwapen uitgehaal en verskeie skote geskiet. Sy twee aanvallers het gevlug en niemand is beseer nie. ’n Verbygaande voertuig met twee insittendes is beskadig. Met die polisie se aankoms op die toneel het die man nog sy vuurwapen in sy hand gehad. Hy het ligte beserings opgedoen en onder meer twee tande in die onderonsie met sy twee aanvallers verloor.
Die man se twee vermeende aanvallers is skoonveld en die polisie vra enigiemand met inligting om die plaaslike polisiekantoor by 057-391-6211 of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600-10111 te bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad