Man vas na sewe verkragtings
2010-02-25 22:59
Johannesburg – ‘n Man wat deur die polisie gesoek word vir ses verkragtingsake en vyf moorde is Donderdagmiddag in hegtenis geneem naby die Grassmere tolhek nadat hy glo nóg ‘n slagoffer verkrag het, het die polisie gesê.
“Die vroulike slagoffer het ‘n metropolisielid sien verbyry by die Grassmere tolhek op die N1-suid en het vir hom gesê dat sy in nabygeleë bosse verkrag is,” het supt. Wayne Minnaar van die Johannesburg metropolisie gesê.
Die vrou het naby die snelweg geloop toe die man, wat na bewering in sy veertigs is, haar gegryp en na nabygeleë bosse geneem het waar hy haar glo verkrag het.
Ná sy inhegtenisname is daar vasgestel dat hy deur die polisie gesoek word vir ses verkragtings en moord op vyf vroue in Lenasia, Ennerdale en De Deur, het Minnaar gesê.
- Sapa