Man vas ná moord oor sigaret
2011-12-22 18:59
Johannesburg – 'n Man is in hegtenis geneem nadat hy sy vriend glo tydens 'n argument in Mankweng doodgemaak het oor 'n sigaret, het die polisie Donderdag in Limpopo gesê.
Die 21-jarige man is Woensdagmiddag in hegtenis geneem ná 'n reuse soektog, het konst. Moses Molepo gesê.
Volgens Molepo het die man vir Peter Chauke (21) Saterdagoggend by 'n kroeg in Mankweng doodgesteek.
"Die twee vriende was besig om saam te drink toe die verdagte 'n sigaret vir Chauke gevra het."
"Toe Chauke aan hom sê dat hy nie sigarette het nie, het 'n argument ontstaan. Die verdagte het 'n mes uitgehaal en sy vriend twee keer in die bors gesteek voordat hy weggehardloop het."
Chauke is twee dae later in die Mankweng-hospitaal oorlede.
Die man sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Mankweng verskyn op 'n aanklagte van moord.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA