Man vas ná moord in Boland
2010-07-16 06:32
Stellenbosch - ’n Dag ná die gedenkdiens van Chanel du Toit (28) is ’n man in verband met die moord op dié Franschhoekse inwoner in hegtenis geneem.
’n Man in sy twintigs van Franschhoek wat die slagoffer baie goed geken het, is Donderdag by die Franschhoek-polisiekantoor vir ondervraging aangehou. Hy is omstreeks 16:00 amptelik in hegtenis geneem in verband met die moord, wat verlede Woensdag plaasgevind het, het ’n polisiewoordvoerder gesê.
Die naam van die verdagte, wat aan Die Burger bekend is, kan nie bekend gemaak word voordat hy in die landdroshof verskyn het nie.
Konst. Marize Papier, woordvoerder van die polisie in Franschhoek, het Donderdag gesê die verdagte sal Maandag daar in die landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Hy sal tot met sy verskyning in die selle by dié polisiekantoor aangehou word.
Die inhegtenisneming volg agt dae nadat Du Toit se lyk in haar huis op die Dieu Donné-wynlandgoed buite die dorp gevind is.
Haar skoonma, Ronelle Kitshoff-Du Toit, het haar lyk op die slaapkamervloer aangetref.
Sy is volgens die polisie “sekondêr versmoor” en verwurg. Sy is nie verkrag nie.
Die slagoffer se man, Johan du Toit (26), het haar die laaste keer omstreeks 02:00 die oggend van die moord gesien net voordat hy glo op ’n jagtog vertrek het. Vroeër is berig dat hy later die oggend onraad vermoed en bekommerd geraak het toe sy vrou nie sy telefoonoproepe geantwoord het nie. Hy het later sy ma gekontak en gevra om ondersoek te gaan instel.
Die egpaar, wat verlede jaar in Franschhoek getroud is, het in ’n kothuis sowat ’n kilometer van mnr. Du Toit se ouers op dieselfde werf gewoon.
Uit die polisie-ondersoek het dit geblyk die slagoffer se trouringe en ’n selfoon word vermis.
Forensiese beamptes het die huis ’n paar dae lank vir leidrade gefynkam. Daarbenewens het beamptes van die Franschhoek-polisiekantoor onverpoos gewerk om ’n verdagte vas te trek.
’n Gedenkdiens is Woensdag uit die NG kerk Franschhoek vir haar gehou. Die media was nie by die diens welkom nie.
- Die Burger