Man vas ná kaping
2010-01-29 05:03
Johannesburg – ‘n Man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die kaping van ‘n vragmotor op die R43 naby Vereeniging, het die polisie gesê.
“Vier verdagtes in ‘n Mazda Midge 323 het die vragmotor Woensdagoggend omstreeks 07:50 op die pad voorgekeer,” het kapt. Thivulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, gesê.
“Twee van die mans het uit hulle voertuig gespring en hulle vuurwapens op die bestuurder van die vragmotor gerig. Hulle het hom glo in hulle motor gedwing,” het hy gesê.
Die verdagtes het die vragmotorbestuurder glo vasgebind en by die Zonkizizwe-nedersetting in die veld gegooi. Hy kon daarin slaag om te ontsnap en het die polisie van die voorval in kennis gestel.
Een van die kapers is Donderdagoggend in Hammanskraal vasgetrek. Die ander verdagtes het op die vlug geslaan.
Die saak word steeds deur die polisie ondersoek.
– Sapa