Man vas ná hy verstandelik versteurde verkrag
2010-03-02 18:02
Johannesburg – ‘n 40-jarige man is erg geslaan nadat hy Maandag glo ‘n verstandelik versteurde vrou verkrag het, het polisie in Mpumalanga gesê.
Die 24-jarige vrou het na ‘n winkel in Uitbreiding AA in Sun City Village naby KwaMhlanga geloop toe die man nadergekom en aangebied het om saam met haar te loop, het sers. Nonhlanhla Kgosana gesê.
“Hy het haar hand vasgehou en na sy huis gegaan.”
‘n 10-jarige meisie het gesien hoe die twee by die huis ingaan. Sy het agterdogtig geraak want sy het geweet die vrou is verstandelik versteurd.
“Nadat sy saggies nader gegaan het, het die meisie deur ‘n venster gesien hoe die man die vrou op sy bed verkrag.”
Die meisie het na die straat gehardloop en om hulp geroep.
Plaaslike inwoners het by die huis ingehardloop en die man met klippe en hul vuiste bygekom, voordat die polisie opgedaag en hom in hegtenis geneem het.
Die verdagte is in ‘n ernstige toestand na die KwaMhlanga Hospitaal geneem waar hy onder polisie bewaring herstel.”
Hy sal na verwagting in die KwaMhlanga landdroshof op ‘n aanklagte van verkragting verskyn.
- Sapa