Man vas ná hy kind byna keelaf sny
2012-02-08 10:07
Johannesburg – ‘n Man van Katlehong is in hegtenis geneem ná hy ‘n sewejarige meisie verkrag en byna keelaf gesny het, het die Gautengse polisie gesê.
“Daar word beweer dat die verdagte op 20 November 2011 by sy eks-meisie se hut in ‘n plakkerskamp in Palm Ridge, Eden Park, ingebreek het,” het kapt. Pinky Tsinyane in ‘n verklaring gesê.
“Die ma was nie daar toe haar twee kinders geslaap het nie.”
Die verdagte het na bewering ‘n sewejarige meisie verkrag, haar byna keelaf gesny en op die vlug geslaan.
Die meisie is gehospitaliseer en het die voorval oorleef.
Sedertdien was die polisie op soek na die man.
Tsinyane sê die polisie het Dinsdag ‘n wenk opgevolg dat die verdagte nagskof by ‘n fabriek in Wadeville, suid van Johannesburg, gewerk het.
“Hy is vanoggend [Woensdag] in sy gehuurde hut in uitbreiding 2 Katlehong in hegtenis geneem.”
Hy sal in die Alberton-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting, poging tot moord en huisbraak.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA