Man vas ná hy glo meisie, vrou verkrag
2010-02-24 21:06
Johannesburg - 'n Man is Woensdagoggend in hegtenis geneem ná hy glo 'n negejarige meisie en 'n 21-jarige vrou verkrag het.
Insp. Kay Makhubela het gesê die 47-jarige man is omstreeks 03:00 in Jabulani, Soweto in hegtenis geneem.
"Hy het hulle glo verkrag terwyl hul tante, wat sy meisie is, in dieselfde kamer verkrag het. Hulle het 'n kamer gedeel," het hy gesê.
"Die slagoffers het op die vloer geslaap terwyl die man en sy 36-jarige meisie die bed gedeel het."
Makhubela het gesê die man het gewag tot sy meisie slaap en toe uit die bed gekruip en die meisie en die vrou verkrag.
Hulle het toe 'n familielid in die Oos-Kaap van die verkragting vertel. Dié familielid het toe hul tante vertel waarna sy 'n klag by die polisie aanhangig gemaak het.
Die voorvalle het op 16 en 17 Februarie plaasgevind.
Die man sal na verwagting Donderdag op aanklag van verkragting en statutêre verkragting in die Protea-landdroshof verskyn.
– Sapa