Man vas ná hy byna metropolisielid omry
2010-05-05 02:30
Johannesburg – ‘n Man wat probeer het om ‘n metropolisielid, wat besig was om vir hom ‘n boete uit te skryf, om te ry, is Dinsdag in hegtenis geneem, het die metropolisie gesê.
Hoof supt. Wayne Minnaar het gesê dat die man weggejaag het terwyl hy ‘n boete gekry het vir dubbel parkeer en gevolglik amper die metropolisielid omgery het.
‘n Ander beampte het ‘n skoot op die groen BMW gevuur en sy regter agterste band getref. Die motor het tot ‘n stilstand gekom.
Die voorval het Dinsdagmiddag in Lovedaystraat in Johannesburg se middestad plaasgevind.
Die bestuurder is in hegtenis geneem, het Minnaar gesê.
Metropolisie vermoed dat die motor gesteel is, aangesien die lisensie en die registrasienommer nie ooreenstem nie.
Die bestuurder sal Woensdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter