Man van SA in gyselaarsdrama in Mali
2011-11-26 13:41
Bamako, Mali – 'n Groep gewapende mans het 'n Duitser in die stad Timboektoe in Mali gedood en drie mans, waaronder 'n Suid-Afrikaner, 'n Sweed en 'n Nederlander, gyselaar geneem, het 'n toergids gesê.
Volgens Ali Maiga, die toergids, besit die Suid-Afrikaner ook 'n Britse paspoort. Maiga was saam met die groep toeriste toe hulle Vrydag ná 'n aanval by 'n restaurant in Timboektoe gevange geneem is.
Timboektoe was voorheen een van die gewildste bestemmings in Afrika, maar word nou beskou as 'n uiters gevaarlike stad om te besoek as gevolg van die aktiwiteit van 'n plaaslike Al-Kaïda-groep.
Sekerheidskenners beraam dat dié terroristegroep al sowat $130 miljoen (ongeveer R1,1 miljard) uit lospryse ingesamel het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP