Man sterf toe motor teen vragmotor vasjaag
2011-10-29 22:36
Johannesburg – ‘n Man is dood en ‘n ander een het ernstige beserings opgedoen toe hul motor teen ‘n vragmotor vasgejaag het, het paramedici gesê.
Volgens Chris Botha, 'n woordvoerder vir Netcare 911, het die ongeluk Saterdagoggend in Durban plaasgevind.
Luidens berigte was die stilstaande konstruksievragmotor op die M4 naby die Broadway-afrit toe die motor met twee insittendes om ‘n draai gery het. Botha sê die motor kon nie die vragmotor vermy nie.
Die bestuurder van die motor is op slag dood. Volgens Botha was hy in sy 20's.
Sy passasier het ernstige beserings opgedoen en is na die Addington-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Volgens die woordvoerder sal die ongeluk deur die polisie ondersoek word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24