Man sterf toe motor teen bus bots
2012-02-03 22:56
Johannesburg – ‘n Man het gesterf en drie mense is beseer in ‘n trompop-botsing in Verulam, wat noord van Durban geleë is, het paramedici gesê.
Chris Botha, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, sê ‘n vyfjarige kind is in die ongeluk beseer.
Hy sê ‘n bus en ‘n motor het Vrydag in Dickensonweg teen mekaar gebots.
Botha sê die motor was onder die bus vasgepen. Brandbestryders moes meganiese kake gebruik om die beseerdes te bevry.
Die oorledene was die bestuurder van die motor.
Die oorsaak van die ongeluk is onbekend.
Volgens Botha is die kind en ander beseerdes na hospitale in die gebied geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA