Man sterf toe ambulans hom tref
2012-01-09 08:00
Bloemfontein – ’n Jong voetganger is deur ’n ambulans op die N6 buite Bloemfontein doodgery.
Skaars ’n dag later het ’n ander ambulans omgeslaan toe dit pasiënte van Reddersburg na Jagersfontein vervoer het.
Kapt. Rulene Kühn, polisiewoordvoerder, sê Joseph Mopape (23) is sowat 20 km buite Bloemfontein op die pad na Reddersburg deur ’n ambulans doodgery.
Die ambulans het Vrydag na bewering ’n voertuig verbygesteek en vir ’n aankomende vragmotor uitgeswaai. Die bestuurder het na bewering toe beheer verloor en Mopape getref.
Nog ’n voetganger, ’n tienjarige kind, is ook in dié ongeluk beseer.
Kühn sê Mopape het op ’n hoewe in die omgewing gewoon. Volksblad het verneem hy het as ’n tuinhulp gewerk.
Elke de Witt, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê Saterdag was ’n ambulans, wat twee pasiënte met gastro-enteritis na die Diamant-hospitaal op Jagersfontein vervoer het, in ’n ongeluk betrokke.
Dié ambulansbestuurder het na bewering ook ’n botsing met ’n aankomende voertuig probeer voorkom en beheer verloor.
De Witt sê slegs een bemanningslid van die ambulans is beseer en het ligte snye opgedoen.
Die pasiënte is na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.
Volgens De Witt word die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad