Man sterf toe 50 t koring in silo op hom val
2012-01-12 08:30
Kaapstad – Die man wat Maandag deur koring versmoor is toe ’n silo by Nova-voere op Malmesbury ineengestort het, het net drie maande by die plek gewerk.
Nigel Wilsnag (41) het Maandagaand gesterf nadat sowat 50 ton koring op hom en ’n medewerker, Dornishe Koopman, geval het.
Koopman het die dood vrygespring. Sy kon betyds wegkom toe die silo val. Sy is in die Swartland-hospitaal opgeneem, maar is dieselfde aand ontslaan. Sy het net gehoes en haar oë was volgens ooggetuies bloedrooi toe sy uitgehaal is.
Wilsnag se lyk is kort voor 22:00 deur reddingspersoneel en brandweerbeamptes van die Weskus onder die koring uitgehaal.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het Wilsnag se familie hom Dinsdagmiddag uitgeken.
Koopman het gesê sy en Wilsnag was in ’n gebou (’n laboratorium) reg langs die silo toe hulle ’n slag hoor. Hulle het na die naaste uitgang gehardloop, maar net sy kon uitkom. Hy was nie so gelukkig nie.
’n Ander werker wat gesien het wat gebeur het, het Maandagaand op die toneel gesê hy het net gesien hoe die silo begin skud.
Hy was op pad om ’n ingenieur te gaan roep toe die silo ineenstort.
Van Wyk het bygevoeg dat die polisie vir ’n verslag oor die voorval van die departement van arbeid en ingenieurs van die onderneming wag.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad