Man sterf, polisieman kritiek ná tref-en-trap
2011-08-08 14:17
Kaapstad – ‘n Motorfietsryer is dood en ‘n polisiebeampte is in ‘n kritieke toestand nadat albei deur ‘n bakkie gestamp is, het ER24 in ‘n verklaring gesê.
Volgens Vanessa Jackson, woordvoerder vir ER24, het die eerste ongeluk Maandagoggend op die N12 omtrent 5 km buite Potchefstroom gebeur.
Jackson sê die bakkie het glo te vinnig gery.
'n Verkeersbeampte het na bewering die bestuurder van die bakkie probeer aftrek, maar die 38-jarige man is omgery toe die bestuurder nie gestop het nie.
Jackson sê die polisiebeampte het die lug ingeskiet en op die agterkant van die bakkie beland. Die bakkie het aanhou ry in die rigting van Klerksdorp.
Die ander beamptes op die toneel het die bakkie agternagesit en die beseerde verkeersbeampte omtrent 10 km verder in die pad sien lê.
In dié stadium is dit nie bekend of hy afgeval het of deur die bestuurder afgehaal is nie.
ER24-paramedici is na die toneel ontbied en het vasgestel dat die man “baie kritieke beserings” opgedoen het. Hy het sy bene op verskeie plekke gebreek en ander ernstige beserings opgedoen, het Jackson gesê.
Hy is per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.
Jackson sê die bakkie het aanhou ry en in Klerksdorp teen ‘n motorfietsryer vasgejaag.
Die motorfietsryer het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Volgens Jackson is die polisie spoedig in kennis gestel en die bestuurder van die bakkie is glo in Klerksdorp in hegtenis geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24