Man sterf nadat olifant hom aanval
2011-11-25 07:00
Neil Oelofse en Eugene Gunning
Knysna – ’n Man is Sondag deur ’n olifantkoei op ’n private wildsplaas in die ooste van Botswana aangeval minute nadat sy vrou foto’s van die olifant geneem het.
Die 67-jarige Mike Dobson van Knysna het later aan sy beserings gesterf.
Die voorval het by die Sashe-rivier in die Tuli-blok plaasgevind.
Besonderhede oor die tragiese voorval het Dinsdag bekend geword nadat sy vrou, Ling, na Knysna teruggekeer het.
Mev. Dobson, ’n eiendomsagent van Knysna, het vertel dat haar man en die eienaars van ’n kamp op die plaas mekaar al sedert hul kinderjare geken het.
Hulle het die afgelope 25 jaar gereeld gevra dat die Dobsons kom kuier.
Verlede Sondag was sy en haar man saam met die eienaars by ’n watergat op die plaas. Minute voor die voorval het sy nog foto’s van die olifant geneem.
Kort daarna het die groep weggestap van die watergat en die olifant hoor trompetter. “Mike het voor my gestap. Die olifant het geskrik. Niemand weet waarom nie. Ons het in verskillende rigtings gespat. Minute later het ek gevra waar Mike is, maar Mike was nie meer daar nie.”
Hulle het haar erg beseerde man in ’n voertuig gelaai en met hom na die Suid-Afrikaanse grens sowat 60 km verder gejaag. Vandaar is hy met ’n ambulans na Alldays in Limpopo geneem.
’n Roudiens word Maandag om 16:00 by die Knysna-gholfklub vir Dobson gehou.
Greg Vogt, adviseur van die Knysna-olifantpark, het gesê dit gebeur ál meer dat waar mense en olifante in aanraking met mekaar kom, konfliksituasies ontstaan.
Dit kan gebeur dat ’n olifant ’n negatiewe ervaring met ’n mens het en as iemand anders dan ’n paar minute later by so ’n olifant kom, is daar probleme.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad