Man sterf ná vragmotor hom tref
2011-08-24 13:20
Durban – 'n Man is dood en twee ander is beseer in 'n ongeluk waarin twee motors en twee vragmotors op die N2 in Durban, KwaZulu-Natal, betrokke was, het paramedici gesê.
"Twee motors het aanvanklik gebots. Een van die bestuurders het uit die motor geklim om besonderhede te neem, en soos hy gestap het, het die bestuurders van twee vragmotors beheer oor die voertuie verloor en een van die vragmotors het die man omgestamp," het Chris Botha, woordvoerder van Netcare, gesê.
Botha het gesê die man is op die toneel dood en twee insittendes van die vragmotors het ernstige beserings opgedoen.
Die N2 is naby die ou Durbanse lughawe vir verkeer gesluit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA