Man sterf ná trein sy motor tref
2012-01-18 17:58
Johannesburg – ‘n Man is Woensdagoggend dood toe ‘n trein sy motor op ‘n spooroorweg net buite Potchefstroom getref het, het paramedici gesê.
Die man het die treinspoor in sy Toyota Corolla probeer oorsteek toe die trein hom omstreeks 09:10 getref het, het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
Die bestuurder, wat in sy vroeë dertigs was, is op die toneel dood verklaar, alhoewel die meeste van die skade aan die passasierskant van die motor aangerig is.
Die man was alleen in die motor. Niemand op die trein is beseer nie.
Die treinspoor loop parallel met die N12 en die ongeluk het plaasgevind op ‘n pad wat van die hoofweg afdraai.
Volgens Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare 911, het die motor vir onbekende redes op die spooroorgang gestop en nie beweeg toe die trein vir hom getoet het nie.
Die motor is 150 m by die spoor afgestoot.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA