Man sterf ná onderonsie
2010-05-02 21:57
Johannesburg - 'n 23-Jarige man is glo deur twee van sy medewerkers doodgeslaan nadat hulle Sondagoggend 'n onderonsie naby Dutywa gehad het, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
Die man is aangerand en het by die Butterworth hospitaal gesterf, het kapt. Lingisile Magama gesê.
"Die plaaslike seuns het by 'n maatskappy gewerk waar hulle bakstene vervaardig. Hulle het besluit om alkohol te koop. Nadat hulle dronk geword het, het die drie van hulle 'n onderonsie gehad," het Magama gesê.
Dit is nog nie duidelik waaroor die onderonsie gegaan het nie.
Twee mans, 19 en 20 is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Dutywa-landdroshof verskyn.
In 'n ander voorval is 'n 42-jarige man dood nadat hy deur 'n motor in Butterworth getref was.
Volgens Magama was die man Sondagoggend oppad werk toe, toe die ongeluk plaasgevind het.
Die bestuurder van die motor is ook beseer en is na 'n plaaslike hospitaal geneem.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
- Sapa