Man sterf ná motor in veld rol
2011-11-12 14:30
Johannesburg – Die bestuurder van 'n Volkswagen Golf is dood nadat sy motor die N2 naby die Macassar-afrit verlaat en in die veld gerol het, het paramedici Saterdag gesê.
Met paramedici se aankoms op die toneel het die bestuurder 10 m ver van die wrak van die erg beskadigde motor gelê, het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, in 'n verklaring gesê.
Die man is op die toneel dood verklaar.
Paramedici het die gebied gefynkam om te verseker dat daar geen beseerde passasiers uit die motor geslinger is nie, maar dit lyk asof die man alleen in die motor was.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA