Man sterf na hond hom pak
2010-01-23 08:49
Retha Grobbelaar
Johannesburg - "Ek weet mense is lief vir honde, maar ons is lief vir ons pappa. Iemand se hond het ons lewe onder ons uit gegryp.”
So het Jackeé Carelse (35) van Rynfield, Benoni, gister gesê oor die dood van haar man, Jacques (40), enkele ure nadat ’n hond hom aangeval het. Sy hart het gaan staan. Hy het probeer om die gesin se poedel uit die kake van ’n veghond te red toe hy gebyt is.
“Hy is nie geskiet in ’n rooftog of kaping nie, maar hy is dood oor ’n vieslike hond. My kinders se pa is weggevat. Waarnatoe van hier af?” het Carelse gesê.
Carelse het Woensdag omstreeks 17:45 by die huis gekom. Hy het uit sy motor geklim om die hek oop te stoot.
“Ek het ’n lawaai gehoor en by die venster uitgeloer,” het sy vrou vertel. “Die hond (’n Amerikaanse veghond) het van buite ingehardloop gekom en ons poedeltjie, Buffy, gegryp. My man was besig om die honde uitmekaar te kry.
“Ek het uitgestap en my man en seun (ook Jacques, 14 jaar oud) was seker so 5m verder af in die straat... My man het gebukkend gestaan...Elke keer as hy opstaan, kom die hond weer vir hom.”
Volgens Carelse was die hond heeltyd rondom hulle en kon hulle eers sowat ’n halfuur later na die Linmed-hospitaal jaag. Die hond het Carelse se kuite verskeur en ’n vinger afgebyt.
Volgens Carelse het haar man, wat nooit voorheen hartprobleme gehad het nie, herhaaldelik by die hospitaal gekla sy bors pyn.
Terwyl x-straalfoto’s geneem is, het hy ’n “aanval” gekry.
“Dit het verskriklik gelyk. Ek het gegil: ‘Bobbo, bly by ons, bly by ons.’ Ons het gebid: ‘Asseblief Here, moenie vandag my man vat nie. Ek het hom net hospitaal toe gebring omdat ’n hond hom gebyt het.’
“Hy het sy lewe gegee sodat die hond (Buffy) kan lewe. Pleks dat hy die hond gelos het. Dit sou hartseer gewees het, maar dan het ons hom nog gehad.”
Mnr. Carelse, ’n sagteware-ontwikkelaar, was die broodwinner van die gesin. Hulle het nog ’n seun, Eben (5).
“Ons toekoms is pikswart,” het Carelse gesê. “Ons is nie ryk nie, maar my man het gesorg dat ons ordentlik lewe. Wie gaan nou daarvoor sorg?
“Daar is ’n leegheid binne my hart. Die ander helfte is weg. Glo en vertrou maak dat jy kan aangaan, maar dit sit Jacques nie terug in sy stoel nie.”
Die hond is reeds van kant gemaak.
Alan Abrahams, hoofbestuurder van die Netcare Linmed-hospitaal, het gesê nadat Carelse se hart gaan staan het, is noodbehandeling toegepas.
’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word.
- Beeld