Man sterf in fratsongeluk
2009-09-28 21:38
Pretoria - ’n Suid-Afrikaanse man is in ’n fratsongeluk in Kambodja dood toe sy waterponie met ’n vriend s’n gebots het.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Maandag gesê Paul Hutchins is tien dae gelede dood in ’n kop-aan-kop waterponie-botsing met sy vriend, André Bester.
Hutchins en Bester was met vakansie in die Asiatiese land.
"Die departement help om Hutchins se oorskot te repatrieer," het ’n departementele woordvoerder, Dayanand Naidoo, gesê.
Bester is ná die ongeluk by ’n waterpark deur plaaslike owerhede in hegtenis geneem, het Radio 702 berig.
Die klagtes teen Bester is onbekend. Hy sal na verwagting Dinsdag in die hof verskyn vir ’n borgaansoek.
- Sapa