Sasolburg: Man doodgeskiet
2013-01-22 13:42
Sasolburg – Die polisie het versterkings ingeroep om te help om sowat 100 polisiebeamptes, inwoners en joernaliste uit die Sasolburg-polisiekantoor te bevry, berig Times Live.
Beeld berig 'n man is Dinsdag in die oproer in die Zamdela-Sasolburg-omgewing doodgeskiet, vermoedelik toe 'n groep oproeriges 'n winkel in Sasolburg wou plunder.
Die polisie het intussen ook aan Mail & Guardian bevestig dat die Zamdela-polisiekantoor aan die brand gesteek is. Die plaaslike Telkom-kantoor smeul ook.
Die polisie het 'n pad, wat lei na die sentrale sakedistrik, versper in 'n poging om te verhoed dat betogers die dorp betree. Die betogers het probeer om deur die versperring te breek, waarna die polisie rubberkoeëls afgevuur het.
Inwoners het vanaf die Moses Kotane-stadion in Zamdela beweeg, waar hulle vroeër byeengekom het om te luister na Richard Baloyi, minister van samewerkende regering. Baloyi het egter nie opgedaag nie.
Die betogers het op 'n plaaslike radiostasie gehoor Baloyi is op pad daarheen. Ander het gesê hulle het verwag dat Ace Magushule, premier van die Vrystaat, daar sal opdaag.
Teen 10:00 het inwoners moeg geword, waarna die skare 'n rukkie later die stadion verlaat het. Die polisie het hulle in gepantserde voertuie agtervolg.
Inwoners betoog oor nuwe planne vir die samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteit.
– Volg Nuus24 op Twitter