Man sterf in Polokwane-ongeluk
2011-12-12 19:57
Johannesburg – ‘n Man het Maandag gesterf toe sy motor teen die kant van ‘n bus gebots het op die N1 buite Polokwane, het paramedici gesê.
Die motor is heeltemal verwoes in die ongeluk en die bestuurder het nie oorleef nie, het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, gesê.
“Die voorkant van die motor was letterlik aan flarde en byna onherkenbaar platgedruk... die bestuurder het verskeie beserings opgedoen.”
Ooggetuies het gesê die voertuig het skielik geswenk en die kant van die bus, wat in die ander rigting op die snelweg gereis het, getref.
Die passasiers in die bus is nie beseer nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA