Man sterf in Mpumalanga-ongeluk
2011-11-19 22:49
Johannesburg – ‘n Man is dood en twee ander is in ‘n kop-aan-kop botsing Saterdag op die N4-hoofweg naby Rondebosch Dam in Mpumalanga beseer, het paramedici gesê.
Die man, in sy dertigs, is dood nadat ‘n Bantam-bakkie en ‘n Mercedes Benz net voor 18:00 gebots het, het Andre Visser, woordvoerder van ER24, gesê.
“Die slagoffer was ‘n passasier in die bakkie en het veelvuldige beserings opgedoen. Hy is later op die toneel dood verklaar.”
Die bestuurder van die Mercedes Benz, ‘n 41-jarige vrou, was agter die stuurwiel van haar motor vasgekeer. Sy moes behandel word vir kop- en borsbeserings.
Die bestuurder van die bakkie was ook in sy voertuig vasgekeer.
Die twee beseerdes is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA