Man sterf in Jhb-skietery
2011-10-31 21:00
Johannesburg – ‘n Man is Maandag doodgeskiet en ‘n polisiebeampte is kritiek beseer in ‘n skietery ná ‘n hoëspoed-jaagtog in Mayfair, het die polisie in Johannesburg gesê.
‘n Dubbelkajuit-Toyota bakkie het in Kerkstraat gery en agterdog gewek, waarna die polisie wat die gebied gepatrolleer het, die voertuig agtervolg het, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Die mense in die Toyota het toe op die polisie losgebrand. Die polisie het hulle agternagesit.
“Die bakkie het ‘n verkeerslig op die hoek van Crownwoodweg en Planetlaan omgery en tot stilstand gekom, waarna ‘n skietery ontstaan het,” het Ndou gesê.
Een van die mans wat gevlug het, is doodgeskiet en ‘n polisiebeampte is ernstig beseer. ‘n Verbyganger is ook getref, maar die erns van die besering was nie onmiddellik duidelik nie.
‘n Drie-en-dertig-jarige man is op die toneel in hegtenis geneem. Beslag is op vier 9mm-pistole en ‘n aanvalsgeweer gelê.
Die man sal Woensdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens, het Ndou gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA