Man sterf by inisiasieskool
2010-07-15 12:36
Johannesburg – ‘n Een-en-twintigjarige man is dood by ‘n inisiasieskool in Mondeor in die suide van Gauteng, het die polisie Donderdag gesê.
“Joseph Radebe is met ‘n stok geslaan en het Woensdagaand omstreeks 19:30 aan sy beserings beswyk,” het ao. Gordon Billing, polisiewoordvoerder, gesê.
Sy gesin is van sy dood in kennis gestel.
Drie verdagtes is reeds in hegtenis geneem en sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Die inisiasieskool is in die veld langs die Vereenigingpad en die jong mans moet onder komberse slaap sonder enige ander beskerming teen die elemente.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA