Man sterf by ANC se eeufeesviering
2012-01-07 22:45
Bloemfontein – ‘n Man is dood nadat hy Saterdagmiddag op die verhoog by die Mangaung buitelug-sportsentrum in Bloemfontein inmekaar gesak het tydens ‘n kulturele vertoning by die ANC se eeufeesvieringe, het die party gesê.
Volgens die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu, is die man dood terwyl hy na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas is.
“Ons is verpletter deur die dood van hierdie vrywillige kunstenaar van een van die top-groepe, wie se deelname in die vieringe gemotiveer is deur niks anders nie as sy liefde vir die party,” het hy gesê.
Mthembu het gesê die kunstenaar se naam sal eers bekendgemaak word wanneer die ANC-leierskap hul medelye aan die oorledene se familie uitgespreek het.
Die kulturele optrede was deel van ‘n verskeidenheid aktiwiteite in aanloop tot Sondag se 100ste verjaardag van die party.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA