Man steek kind aan die brand
2009-12-27 05:08
Johannesburg – ‘n Voormalige munisipale bestuurder van die Mbombela munisipaliteit naby Barberton, Mpumalanga is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n seun dodogemaak het deur hom aan die brand te steek.
Die man (44) het vermoed dat die seun elektroniese toebehore vanuit sy huis gesteel het. Hy het Vrydag na die seun se huis gegaan en die seun saam met hom geneem.
“Die seun se ouer het agterdogtig geraak en die saak Saterdagoggend aan die polisie aangemeld,” het kapt. Leonard Hlathi gesê.
Die man het glo terselfdertyd na die polisiestasie gegaan en gesê hy wil nie ‘n saak teen die seun oopmaak nie maar wou net dat die seun hom wys waar hy die gesteelde goedere gebêre het.
Polisie het Saterdagmiddag ‘n boodskap van verpleegsters by die Barberton-hospitaal ontvang dat hulle ‘n seun met erge brandwonde opgeneem het. Die seun het glo na petrol geruik.
Toe polisie by die hospitaal aangekom het was die seun reeds dood.
“Die seun het aan die verpleegsters vertel wie petrol oor hom gegooi het en hom aan die brand gesteek het. Hy het gesê dit was die verdagte en sy vriend,” sê Hlathi.
Die man is vir moord in hegtenis geneem en sal Maandag in die hof verskyn.
- Sapa