Man steek broer dood
2009-11-02 18:23
Sebokeng - ‘n Man wat na bewering sy broer doodgesteek het in Sebokeng is in hegtenis geneem.
Supt. Nthabiseng Mazibuko van die Suid-Afrikaanse polisiediens het Maandag gesê die voorval het plaasgevind toe die broers, wat ‘n huis gedeel het, stry gekry het oor voorafbetaalde elektrisiteit.
“Die slagoffer (30) het blykbaar elektrisiteit vir die huis gekoop en sy broer daarvan ingelig.”
Die man se ouer broer het kwaad geword omdat hy hom nie vir geld gevra het om die elektrisiteit mee te koop nie.
Hulle het begin stry en die jonger broer het die ouer man met ‘n klip oor die kop geslaan.
Die ouer broer (41) het glo die slagoffer gedreig dat hy hom in sy slaap sal doodmaak, het Mazibuko gesê.
Blykbaar het die man gewag dat sy jonger broer aan die slaap raak, waarna hy hom vier keer gesteek het.
Ná die moord het hy sy bebloede hande in die kombuis gaan was.
‘n Buurvrou het daar aangekom en hom gevra wat gebeur het.
Hy het aan haar gesê dat hy sy broer doodgemaak het en dat hy bly is hy het dit gedoen.
Die man het probeer hardloop, maar lede van die gemeenskap het hom gekeer en die polisie is geroep.
Hy is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Sebokeng landroshof verskyn.
- Sapa