Man sonder bene oor swak diens by hospitaal
2011-02-28 20:00
Pretoria – 'n Man se bene is geamputeer omdat hy glo vir twee jaar nie genoegsame hulp by 'n staatshospitaal gekry het nie.
Abraham Joubert (48) het glo tussen 2006 en 2008 22 keer by die dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa aangeklop vir behandeling vir kroniese pyn in sy bene.
“Oor hierdie tydperk het die personeel geen bloedtoetse gedoen of x-strale van my bene geneem nie,” sê Joubert.
“Toe die pyn ondraaglik word, het ek na die Kalafong-hospitaal gegaan. Ná bloedtoetse het hulle bevind dat my bene dadelik afgesit moes word as gevolg van 'n ernstige infeksie wat reeds ver versprei het,” voeg hy by.
Volgens hom het die hospitaalpersoneel van die dr. George Mukhari-hospitaal oor hierdie tydperk slegs vir hom pynpille gegee en hom huis toe gestuur.
“Die chirurg by Kalafong wat my bene afgesit het, het bevestig dat ek nie my bene sou verloor het as ek onmiddellik die regte behandeling ontvang het nie,” sê Joubert.
Joubert het sy werk kort na die amputasie van sy bene in 2008 verloor.
“Ek het draaibankwerk vir 'n firma gedoen en kon nie sonder my bene die werk doen nie. Voor dit het ek 20 jaar as tegnikus by Telkom gewerk.”
Nadat Joubert gedeeltelik die gebruik van sy bene in 2007 verloor het, het hy op 'n vriend se erf in Soshanguve gaan bly. Hy bly op die oomblik in 'n sinkskuiling sonder lopende water.
Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is dienslewering by staatshospitale power as gevolg van 'n gebrek aan personeel om aan die groeiende vraag na dienste by die hospitale te voldoen.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24