Man slaan vrou en kind met baksteen dood
2011-10-30 14:37
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem vir die moord op sy vrou en ses maande oue babaseuntjie by die Tshiombo-kliniek in Mutale buite Thohoyandou, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Die moorde het glo Vrydag plaasgevind, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
“Daar word beweer dat die 32-jarige pa, wat ‘n sekuriteitswag in Gauteng is, sy 23-jarige vrou en hul seun geslaan het ná ‘n vurige argument.”
Mulaudzi sê daar word verneem dat die man uitgevind het dat sy vrou ‘n buite-egtelike verhouding het en die paartjie het in ‘n poging om die dispuut op te los die plaaslike maatskaplike werkers genader.
“Die man het woedend geword toe dit uitkom dat die baba nie syne is nie. Hy het in frustrasie uit die konsultasiekamer gehardloop en sy vrou het hom agterna gesit. Hy het op die perseel ‘n baksteen opgetel en beide die vrou en die baba daarmee geslaan.”
Sekuriteitswagte op die perseel het hom onder beheer gebring en die polisie is gekontak.
Werkers by die kliniek kon nie die ma en die kind weer bybring nie.
Die man sal na verwagting Maandag in die Thohoyandou-landdroshof verskyn, het Mulaudzi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA