Man slaan Jeffreysbaai-vrou dood met plank
2012-01-16 15:06
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo sy 28-jarige eks-meisie in Jeffreysbaai doodgeslaan het, het die Oos-Kaapse polisie Maandag gesê.
“Tembela Jan, ‘n munisipale polisiebeampte, was by ‘n karavaanpark aan diens toe haar 48-jarige eks-kêrel opgedaag het,” het lt.kol. Priscilla Naidu vertel.
Naidu sê die man was glo woedend en het Jan herhaaldelik met ‘n plank geslaan. Hy het weggehardloop toe Jan inmekaargesak het.
Volgens Naidu het ooggetuies die aanval probeer stop, maar het nie daarin geslaag nie.
Jan was reeds dood toe die polisie by die toneel opgedaag het.
Die man is later aangekeer en is deur ooggetuies uitgeken.
Die verdagte word van moord aangekla en sal Dinsdag in die Humansdorp-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA