Man skuldig ná hy vrou, kinders vermoor
2013-01-24 17:53
Pretoria – ‘n Man is vroeër daaraan skuldig bevind dat hy ‘n vrou doodgesteek en haar twee jong kinders verwurg het.
Sipho Masiqa (36) van KwaMhlanga is in Pretoria se hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Thifhelimibilu Mashau, haar agt maande oue baba, Avheani, en haar vierjarige dogter, Adivhao, in Julie 2010.
Hy is ook op aanklagte van ontvoering, aanranding en roof skuldig bevind.
Masiqa se vriend, Raymond Matshaba (29), was ‘n medepligtige.
Hy het Mashau se motor uitmekaar gehaal en aan die brand gesteek om vingerafdrukke te vernietig, nadat hy in ‘n koerant oor die moorde gelees het.
Bradley Molefe (36), ‘n taxi-operateur, is op alle aanklagte teen hom vrygespreek.
Regter Bert Bam sê daar was nie genoeg bewyse om hom skuldig te bevind nie.
Die vonnisoplegging sal op 7 Februarie plaasvind.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA