Man skuldig aan wreedheid teenoor paddas
2011-06-02 19:57
Johannesburg - ‘n Man wat lewendige paddas in plastiek-koeldrankbotteltjies gestop het om as aas vir visvang te verkoop, is in die landdroshof op Sasolburg skuldig bevind aan dieremishandeling, het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) Donderdag gesê.
“Jeremiah Mokoena, in sy 20’s, is skuldig bevind en ‘n boete van R2 000 of ses maande tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê,” het Jaco Pieterse, NDBV-woordvoerder, gesê.
“Ons is bly oor die uitslag, aangesien dit die eerste keer is wat ons ‘n saak van wreedheid teenoor paddas wen,” het hy gesê oor die vonnis.
Mokoena is in Desember deur die NDBV gewaarsku nadat die liggaam uitgevind het hy forseer paddas deur die openinge van plastiek-koeldrankbottels om aan vissermanne in Deneysville in die Vrystaat te verkoop.
Klagtes is teen hom aanhangig gemaak toe inspekteurs ‘n week later gevind het dat hy dit stééds doen.
“Hy het groot platanna-paddas, wat tussen 10 en 15 sentimeter lank en vyf sentimeter breed is, gevat en hulle deur ‘n opening van twee sentimeter gedruk,” het Pieterse gesê.
“Hy het hulle dan in die sonlig geplaas, waar die water sou warm word en die paddas stadig versmoor het.”
Pieterse het gesê paddas is sensitief vir hantering en het baie delikate velle.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA