Man skiet sy vrou, nog vier
2011-01-10 07:40
Johannesburg - ’n 45-jarige man het sy vrou en nog vier mense in ’n kroeg in Fochville geskiet voordat hy homself om die lewe gebring het.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die man het hom Saterdag omstreeks 21:50 by die Waterrite-kroeg doodgeskiet nadat hy op sy vrou en die vier ander mense losgebrand het.
Twee van sy slagoffers is dood.
Die man en sy vrou was glo besig om te skei en het vermoedelik vroeër die aand rusie gemaak voordat sy vort is. Haar man het haar later by dié kroeg in Skoolstraat opgespoor.
Volgens Ndou het die skieter ’n ander man, wat van die gimnasium oorkant die pad aangestap gekom het, sonder rede summier doodgeskiet voordat hy by die kroeg ingestorm het.
“Hy het sy vrou daar binne gekry en haar in haar linkerbo-arm getref.”
’n Anonieme bron het aan Beeld vertel twee mans – die kroegman en ’n kroegklant – het die skieter probeer keer toe hy in hul rigting gedraai en op hulle begin skiet het.
Die kroegman is noodlottig getref en die ander man is in die keel gewond.
Die aanvaller het daarna nóg ’n man in die knie en bobeen gewond voordat hy uit die kroeg gestap het.
“Die skieter het die pistool onder sy ken gedruk en die sneller getrek.
“Hy is op slag dood,” het Ndou gesê.
Die Fochville-nooddienste is na die toneel ontbied.
Die aanvaller se vrou en die man wat in die been gewond is, is na die Leslie Williams-hospitaal in Carletonville geneem.
Albei is ná behandeling toegelaat om huis toe te gaan.
Die toestand van Johan van Niekerk (35), wat in die keel geskiet is, was aanvanklik uiters kritiek.
Hy moes per ambulans na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto geneem word nadat ’n helikopter ontbied is, maar sy toestand was nie stabiel genoeg om daarmee vervoer te word nie.
’n Familielid van Van Niekerk het Sondagaand aan Beeld gesê sy toestand is stabiel en hy is nou buite gevaar. Hy word glo steeds in die waakeenheid behandel.
Die Fochville-polisie ondersoek drie klagte van poging tot moord en twee van moord.
Die name van die oorledenes, asook die ander gewondes, was teen druktyd nog nie bekend nie.
- Beeld