Man skiet plaaswerker dood
2009-08-01 08:49
Johannesburg- ‘n Voorman van ‘n plaas in die Noordwes is in hegtenis geneem ná hy ‘n plaaswerker geskiet het. Die man het glo die slagoffer met ‘n tarentaal verwar.
Volgens kaptein Adele Myburgh het die 21 jarige voorman gesê hy het ‘n tarentaal in die veld agter die huis gesien en wou dit skiet. “Net toe hy die sneller getrek het, het die slagoffer van agter die huis verskyn en is hy noodlottig gewond”, sê Myburgh
Tshokolo Modise (40) het ander plaaswerkers se vuil skottelgoed agter die huis bymekaargemaak toe hy in die kop geskiet is. Hy is op die toneel dood.
Howard Yawa, LUR vir plaaslike regering in die Noordwes, sê daar is groot bekommernisse oor geweldadige misdaad teen swart werkers op plase in dié provinsie. Volgens hom veroorsaak sulke voorvalle ongewenste rasse-spanning in plaasgemeenskappe.
Volgens Myburgh word die voorman se eise oor die voorval ondersoek en sal hy Maandag in die hof op aanklag van moord, verskyn.
-Sapa