Man skiet meisie twee keer in maag
2011-08-23 20:58
Johannesburg – ‘n Man is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie twee maal in die maag geskiet het tydens ‘n argument in Soweto, het die polisie in Johannesburg gesê.
“’n Ses-en-dertig-jarige vrou is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat haar kêrel haar Maandagaand geskiet het,” het ao. Kay Makhubela gesê.
Die paartjie het Vrydag stry gekry nadat die vrou haar kêrel saam met ‘n ander vrou betrap het by ‘n sjebien in Dobsonville. Die argument het Maandag by dieselfde sjebien voortgegaan toe die vrou haar kêrel hieroor uitgevra het.
Ná die bakleiery is die paartjie na buite, waar klante geweerskote gehoor het.
Die man is Dinsdag in hegtenis geneem. Hy het ‘n gelisensieerde vuurwapen by hom gehad. Die man word van poging tot moord aangekla en sal na verwagting Woensdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA