Man skiet inbreker, vas vir poging tot moord
2011-06-21 23:16
Johannesburg – ‘n Vyf-en-dertigjarige huiseienaar is Dinsdag in Fordsburg, Johannesburg, in hegtenis geneem vir poging tot moord nadat hy ‘n inbreker wat hom met ‘n pyp aangeval het, geskiet het.
Volgens ao. Xoli Mbele is die man omstreeks 10:00 in hegtenis geneem nadat hy die 30-jarige man, wat hom in sy huis met ‘n staalpyp aangeval het, geskiet het.
Volgens Mbele het vier mans by die eienaar se eiendom ingebreek. Twee mans het die huis binnegegaan en twee het buite gebly.
Die eienaar het die man wat hom na bewering aangeval het, in die onderlyf geskiet, waarna die man se makkers weggehardloop het. Die polisie, wat misdaadvoorkoming in die gebied gehandhaaf het, het na die huis gegaan nadat hulle die geweerskoot gehoor het.
Die beseerde man is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem. Hy is in hegtenis geneem vir huisbraak, diefstal en opsetlike saakbeskadiging.
“Die eienaar is vir poging tot moord in hegtenis geneem en beslag is op sy wapen gelê.”
Mbele het gesê die ondersoek duur voort en albei mans sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA