Man sit lewenslank vir moord op buurtwag-lid
2013-01-16 18:01
Pretoria – ‘n Man van Thokoza is Woensdag deur die Pretoria-hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n lid van die buurtwag tydens ‘n rooftog vermoor het.
Mandla Ntuli (30) is ‘n lewenslange vonnis en 73 jaar tronkstraf opgelê op agt aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Die vonnisse sal gelyktydig saam met die lewenslange vonnis uitgedien word.
In die vonnisoplegging het regter Winston Msimeki gesê Ntuli was deel van ‘n bende wat in Februarie 2009 die Mnandi Spar in Centurion beroof het.
Die bende het mense vermink, ‘n man vermoor en ‘n ander een ernstig beseer, het hy gesê.
Andre Erlank, ‘n lid van die buurtwag in Mnandi, het oorleef nadat hy in die bors geskiet is terwyl hy hulp op sy tweerigting-radio probeer ontbied het.
Hy het opgemerk dat daar ‘n rooftog by die Mnandi Spar in Centurion is.
Die rowers het Erlank se vriend en mede-buurtwaglid, Louis Viljoen (39), in sy motor doodgeskiet terwyl hy van die toneel probeer vlug het.
Msimeki het die buurtwag geprys en sê dit is prysenswaardig dat hulle nie die reg in eie hande geneem het nie, want as hulle het, sou Ntuli se twee mede-beskuldigdes dood gewees het.
Mzokhona Sipho Nene van Thokoza en Sbusiso Sfiso Sibiya van Natalspruit is kort ná die moord en roof naby die toneel in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA