Man sit lewenslank ná moord op melkman
2011-12-08 07:00
Kimberley – ’n Man met 15 vorige veroordelings wat ’n melk-afleweraar met ’n polisie-dienspistool in ’n voorafbeplande rooftog doodgeskiet het, is gister lewenslank tronk toe gestuur.
Die moordenaar het homself van ’n inbreker tot ’n moordenaar “bevorder”, het waarnemende regter Hughes-Madondo by vonnisoplegging gesê.
“Hoe goedkoop het die lewe nie geword nie,” het sy bygevoeg. “’n Broodwinner is vir minder as R10 000 ‘tereggestel’.”
Vroeër is in die hooggeregshof getuig Thomas Andrew Coetzee (26) van Phuthanang, Galeshewe, en ’n polisiebeampte het afgespreek om die twee melk-afleweraars te beroof.
Coetzee is verlede week op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.
Coetzee het Patrick Mongezi Booysen (25) van Hancor-melkery op 25 Oktober verlede jaar in sy rug, gesig en kop in die veld langs die pad na Barkly-Wes buite die stad geskiet en R9149,45 geroof.
Coetzee het Frank Kubu in die regteroor gewond terwyl hy weggehardloop het.
Die regter het gesê die moord en rooftog is op berekende wyse vooraf beplan. Coetzee het die slagoffers se vertroue gewen sodat hy hulle onder valse voorwendsels na die moordplek kon lok.
Hy het die swaar gewonde Booysen nog twee skote toegedien terwyl hy hulpeloos op die grond gelê het.
Coetzee het die moord gepleeg al is hy twee jaar gelede onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te mag besit.
Booysen se dood het ’n geweldige impak op sy ma gehad, want hy was die enigste broodwinner.
Coetzee is soos volg gevonnis: Roof met verswarende omstandighede – 15 jaar; moord – lewenslank; poging tot moord – 10 jaar; die onwettige besit van ’n vuurwapen – 15 jaar; en die onwettige besit van ammunisie – 10 jaar.
Die vonnisse word samelopend met die lewenslange tronkstraf uitgedien. Adv. Tanya Birch het aangekla.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad